Die Naweek

Kry hy nou ʼn opdrag om te skryf oor ‘die naweek’, jy sien.
Nog nooit gedink aan ʼn definisie vir ‘naweek’ nie maar nou dat dit opkom moet daarna gekyk word. ʼn Week is of was eintlik ʼn hele ding, soos die hele 7 dae byvoorbeeld. As die week verby is begin ʼn volgende week. Vanslewe, dis nou in kleintyd van laerskool en tot so halfpad in hoërskool se tyd was die week gebroke…. Woensdag was halfdag – al die winkels en alle bedrywe het 12 uur gesluit vir so ʼn ruskansie in die middel van die week. Natuurlik was Saterdag ʼn gewone voldag tot 5 uur toe. Sondag was alles toe behalwe die Kerk want Sondag was God se dag en dit was heel letterlik opgeneem – geen sport, geen aktiwiteite nie, behalwe om iemand te besoek. In plek van die woord ‘besoek’ kon ek die woord ‘kuier’ gebruik het maar deesdae is daar ʼn ander konnotasie aan die woord ‘kuier’. Jy hoor byvoorbeeld “ons het lekker gekuier by ou watsenaam-hulle” En jy kan dit aan sy oë sien – hulle het eintlik lekker saam gedrink aan die wingerdsap. Pa sou nie die woord drink gebruik het nie maar sou sê hulle het gesuip. Drank was nie ʼn item in ons huise in die ou tyd nie – glad nie. Dis ‘n lewensvorm wat in my tyd ontwikkel het en so saam met die afskaf van Woensdag middag en oorskuif na Saterdag middag toe was daar meer ruimte vir besoeke en tennis speel en plesierige aktiwiteite. Later het die idee posgevat om ʼn soort van ½uur daagliks langer te werk en dan so vir die Saterdag se halfdag in te werk en siedaar – die week sluit reeds Vrydag – die week was geassosieer met werk en nou’s die week verby en wat kom nou na die week. Die naweek. Die naweek was eintlik net Saterdag want Sondag was nog God se dag. Een dag vir ʼn naweek het so met tyd te min geword want sien as jy goed ‘gekuier’ het op Saterdag dan is jy gevang in jou babelaas op Sondag en jy hoef nie te gaan werk nie so wat van ʼn regmaker en ons gaan kuier vir ou watsenaam-hulle want die tennis of golf spanne is afgehandel. Die naweek word sy naam werd want sien dis maklik ons vat God se dag en siedaar. So met tyd het die inwerkery so ʼn stukkie van etensuur ook gekry om dan Vrydag middag by 3 uur te sluit om die ouens wat wil ver ry of gaan kamp ʼn kans te gee om weg te kom vir die “naweek.”

My Pa het ʼn winkel gehad, wel ʼn slaghuis ook. Daar het dikwels iemand by die huis aangekom en gesmeek vir ʼn brood en wat nog uit die winkel en natuurlik het hy gehelp. Dit was wet om 5 uur te sluit en mag daar niks verkoop word na 5 nie. Eendag was daar weer ʼn persoon wat iets dringend benodig en Pa help maar en in die wyl stap die inspekteur ook by die oop agterdeur in beboet my Pa (50 pond), die hele week se profyt in die winkel. Die inspekteur en die kliënt in dieselfde kar daar weg. ʼn Lokval. Dit het weer gebeur maar Pa het ʼn vermoede gehad en oopgesluit en die goedjies wat die man wou hê vir hom gegee en gesê dat aangesien hy nie mag verkoop nie hy dit maar kan persent kry nodeloos om te sê hoe afgehaal die inspekteur was.

Die naweek – as dit so op naweke gebly het sou dit moeilik wees – en daarom is daar met tyd vir besighede meer skiet gegee, soveel so dat die beperkte ure later heeltemal opgeskort is – behalwe Sondae. Dis nou al ʼn paar jaar dat dit ook opgeskort is en is meeste besighede Sondae oop, en nou onlangs is drankwinkel wette ook opgeskort en is dié ook op Sondae oop. So ʼn naweek is vol op dreef…………………………

Nee sê ma, jy moenie oor die naweek skryf nie, sien dit in ʼn Engelse agtergrond, write over the weekend, wat beteken jy moet gedurende die naweek ʼn bietjie vir hulle skryf, ʼn gewone brief poephol.
OK. Hoe gaan dit met julle? Met ons gaan dit deur die genade nog goed. (So het die kinders op skool altyd ʼn brief probeer doen) Dan sit jy potlood bietjie neer want sien jy moet nou dink en mens kan nie die potlood vashou en dink gelyk nie. As jy die potlood wel vashou terwyl lat jy dink, begin jy so liggies aan sy agterkant ʼn bytery aan die gang sit en dis hoe ek by die juffrou ʼn pak gekry het oor my potlood half opgevreet was en my brief nie klaar was nie want dit het by die genade nog goed opgehou en was die genade ook nie so goed nie want jy kan nie jou hande toemaak nie want dis te seer soos sy jou op die hande met die rottang gevoer het. Snaaks die hand uitsteek en oop hou om op geslaan te kom het verdwyn. Die oorsprong van dié metode was natuurlik om die meisiekinders ook te mag slaat. Hulle het natuurlik selde so ʼn pak gekry, dink die skande en die seerheid was vir hulle te erg. ʼn Pak was ʼn man se trots en dis nie vir sussies nie, jy sien.

Die slegtigheid oorval my bietjie deeskedae met die pad toe gaan idee, gaan nie meer nie, moet sê dat die agentjies wat ek het kom haal nogal baie skoene elke week en slaat ek so ʼn kommisitjie, verder is die skoene mos nou in ʼn stoor wat deur die fabriek gehuur word en moet daar bestellings opgemaak kom vir die NTK en dié moet ek Maandae wegvat na Chris toe, hy’s die rep wat die hele Noorde deur ry. Nou het die stoor natuurlik ʼn stoorman nodig en dis nou ek wat dit vir ʼn onbepaalde tyd verniet gedoen het, soveel so dat Windhoek se ouens begin skuldig voel het en nou die dag, wanneer, het ek toe ʼn aanstelling gekry met ʼn astronomiese salaris van ʼn hele ongeërgde R2000. Sien die salaris is nie as verdienste nie want dan moes dit R6000 gewees het maar eerder as erkenning. Kyk dit werk so as jy net hoef dankie te sê en daar is R2000 by dan is jy mos nou half opreg of hoe.
Nou’t ek nie ʼn potlood om aan te kou nie maar moet sê dis ʼn bedekte seën om ʼn sigaret op te steek en inspirasie uit te suig, en, oo., ja gaatjies in te steek.
Groetnis daar en al die mooi sê goedjies vir almal. My Pa het nie van die tyd toe ek in koshuis was gehou nie – wou altyd hê ons moet huis toe kom – en nie net vir ʼn naweek nie – die lewe is meer as ʼn naweek.

Liefde Pappie en Mammie.